Home Up Feedback Search

Meer inligting

News
About us
Where to find us
Your own franchise
FAQ's

Liewe Mamma 

Die doel van Mothers and Miracles se werkswinkels is om die verhouding tussen ma en kind te versterk en om jou kind se algemene ontwikkeling te bevorder.  Daarom is dit noodsaaklik om aandag te gee aan die volgende aspekte sodat julle soveel moontlik baat by die klasse kan vind.  Dit help ook om by die roetine van die klas te bly sodat die kinders tuis voel omdat hulle weet wat van hulle verwag word en wat volgende gaan gebeur.

 Eerstens, wees asseblief betyds en maak seker dat julle nie op die bure se gras parkeer nie.  Parkeer asseblief in ons oprit of op ons sypaadjie.  (Die wat vroeg kom is verseker van ‘n plekkie onder die afdak!)  Almal ry min of meer dieselfde tyd maar as jy haastig is, parkeer op die sypaadjie waar jy vinnig kan wegkom.  As julle inkom, kies ‘n boekie om te lees sodat jou kind rustig kan raak voordat ons met die aktiwiteite begin.  Los asseblief alle administratiewe take vir teetyd.  Bêre doekesakke, handsakke en sleutels uit die pad uit waar dit ons nie kan pla nie en waar klein handjies nie jou sleutels in die hande kan kry om dit te verduister nie.  Dit sal ook help dat kinders nie mekaar se bottels wil drink, of meer aandag aan sy bottel gee as aan die klas nie.

 Dis baie belangrik dat jy baie met jou kind praat tydens klasse.  Verduidelik wat ons doen, hoekom ons dit doen, benoem dit wat ons gebruik, benoem en beskryf dit wat hy/sy voel/sien/hoor/ruik/proe.  Op hierdie manier dra jy by tot jou kind se spraak- en taalontwikkeling.

 Luister asseblief wanneer die aktiwiteite verduidelik word sodat onnodige herhaling uitgeskakel kan word en vra dadelik wanneer jy nie seker is hoe of hoekom ‘n sekere aktiwiteit gedoen word nie.  Haal net dit wat nodig is vir die aktiwiteit uit die boks en maak die deksel weer toe, en sit die boks agter jou rug sodat dit nie jou kind se aandag aftrek nie.  Doen dit konstant elke week sodat jou kind kan leer dis hoe dit gedoen word.  Die bokse se inhoud word altyd gewas voor die volgende klas, so bêre die inhoud weer in die boks en sorg asseblief dat kaartjies/prentjies of ander maklik vernielbare items so min moontlik verniel word, omdat dit meer as een keer gebruik gaan word.

 Die entoesiasme waarmee jy ‘n aktiwiteit aanpak, bepaal of jou kind sal belangstel om dit te doen of nie.  Fokus dus op jou kind en probeer jou bes om sy/haar samewerking te kry, partykeer sal dit beteken dat jy aan ‘n slim plan moet dink, die aktiwiteit snaaks maak of vreeslik moet dramatiseer.  Indien jy regtig hard probeer het en jou kind wil steeds niks weet nie, sorg net dat hy/sy stil en rustig is en nie die ander pla nie.  Maak veral seker dat jou kind nie rondloop en ander kinders pla terwyl hulle besig is nie.  Ons forseer nooit ‘n kind om iets te doen wat hy/sy nie wil doen nie - jy kan die aktiwiteit by die huis herhaal en kyk of hy/sy dan lus is om dit te doen.

 Met grof motoriese aktiwiteite is dit belangrik dat jy opstaan en saam met jou kind speel.  Jou kind gaan nooit leer skop, spring of balvang as jy net rustig sit en bevele gee nie.

 Tydens speelgoedtyd kan konflik oor speelgoed maklik ‘n probleem veroorsaak.  Kom ons bly by die reël dat die kind wat die speelding eerste gehad het, eerste reg het om daarmee te speel totdat hy moeg is daarvoor of bereid is om dit af te gee.  As jou kind ‘n ander kind se speelding wil hê, stap saam met hom/haar kas toe, kies ‘n soortgelyke ding of iets anders om sy/haar aandag af te trek. 

 Wys jou kind hoe om met die speelding te speel, ondersoek saam al die moontlikhede en laat hom/haar dan alleen speel .  As hy/sy op ‘n ander manier wil speel as wat jy gewys het,  sien dit as kreatiewe denke en eksplorasie wat goed vir sy/haar ontwikkeling is.  Onthou om speelgoed wat in die mond was of vuil geword het, in die groen mandjie te sit, veral in die winter met al sy kieme.

 Met musiektyd is dit ook belangrik dat jy aandag aan jou kind sal gee en saam met die instrumente sal speel of saamdans.  Luister na die verduideliking van die bewegings sodat julle dit kan volg en geniet.

 Dit is vir ons almal belangrik dat ons kinders kreatief sal wees en kreatiewe denke sal hê.  Dus moet julle nie die kreatiewe aktiwiteite oorslaan net omdat julle nie van ‘n gemors hou nie.  Dit is belangrik dat jou kind met die kunsmateriale eksploreer en sy eie skeppinge maak.  Elke week word ‘n aktiwiteit voorgestel om jou idees te gee, maar dis baie belangriker dat jou kind dit sal doen omdat dit vir hom lekker is, en dat jy hom nie sal dwing om ‘n spesifieke “mooi” prentjie sal maak om huis toe te vat nie.  Lei jou kind in die aktiwiteit, maar gee genoeg vryheid dat hy/sy kan doen wat hy/sy wil.  Maak gebruik van die voorskote en seepwater en trek jou kind in ou klere aan wat maar ‘n bietjie vuil  mag word.

 Wys jou kind wat die week se tekstuur is, laat hy/sy dit voel en beskryf vir hom/haar wat dit is en hoe dit voel.   Moenie toelaat dat jou kind onnodig mors met die teksture deur dit op die gras uit te gooi nie, meeste van die teksture word vir meer as een klas gebruik. 

 Nadat jou kind geverf het en die teksture gevoel het, kan jy hom/haar los om op sy/haar eie te speel.  Hou egter deurentyd jou oog op jou kind sodat hy/sy nie seerkry nie en sodat konflik oor speelgoed vinnig opgelos kan word.  As jou kind ‘n ander se speelding wil afneem of hardhandig optree teenoor ‘n ander kind, is dit jou plig om hom/haar uit die situasie te neem en sy/haar aandag af te lei en te verplaas na ‘n nuwe speelding.

 Help julself aan koekies, koffie, tee of sap en kuier lekker saam met die ander mammas en kinders.

 Klasfooie en klasbywoning:

 As jy aansluit, betaal jy vir jou plek in die klas, of jy nou daar is of nie.  Die verantwoordelikheid berus by jou om klasse stiptelik by te woon en sodoende waarde vir jou geld te kry.  As jy ‘n klas nie kan bywoon nie, laat my asseblief so gou moontlik weet, sodat ek weet of daar ‘n plek oop is vir ‘n ander mamma om ‘n klas op te maak.  Ons laat nie meer as 10 mammas per klas toe nie om te verseker dat daar persoonlike aandag en genoeg ruimte vir elke kind is.  Dit vergemaklik ook klasvoorbereiding en aankope wat gedoen moet word.  Daarom kan jy nie rond en bont klasse bywoon sonder om eers te bel en te hoor of daar vir jou plek is nie.  As jy ‘n klas kanselleer kan ek dus nie waarborg dat jy dit kan opmaak nie en het dit geen invloed op die betaling van fooie nie.  Geen klasse word op vakansiedae gehou nie maar word sover moontlik ingewerk by ander klasse.  As jy bywoning van klasse wil staak, laat my asseblief ‘n maand voor die tyd weet, sodat ek weet of daar plek is vir nuwe mammas of mammas wat moet skuif omdat hul kind by die volgende ouderdomsgroep moet inskakel. 

Dankie vir julle samewerking.  Ek hoop ons sal ‘n lang en voorspoedige verhouding hê wat net die beste vir ons kinders ten doel het.

 

Tania

 

Home ] Up ]

Send mail to webmaster@mothersandmiracles.co.za with questions or comments about this web site.
Last modified: March 28, 2007